Open/Close Menu Die Bloed van Jesus Christus, die Seun van God, reinig ons van alle sonde. 1 Johannes 1:7
Nagstiltes, dwing ‘n ieder en elk om met sy of haar eie gedagtes te wroeg.

  1. January 12, 2022

    Nagstiltes, dwing ‘n ieder en elk om met sy of haar eie gedagtes te wroeg.
    Die nagte is soms ondraaglik lank en die ure uitgerek. Slaap wyk en koffie of tee, saam met ‘n troosdingetjie soos boerebeskuit, word dan nader gesleep en foeter mens se gedagtes, onkeerbaar net verder en verder – gewoonlik na dinge in die vêrre verlede of soms, na kopstamp gebeurtenisse.

    Emosies woel hulself sonder enige moeite na bó, en siedaar – bitterheid en onverdraagsaamheid vorm ‘n onbehoorlike kameraadskap in jou siel.

    Is daar ‘n mens op hierdie planeet wat nog nié met sulke emosies moes worstel en stoei nie?

    Maar wag, iewers het ek tog ook al gelees dat elke mens ‘n wilsbesluit het – ten goede of ten kwade kan jy tog immers self besluit?

    Of sit ek die pot heeltemal mis? Wat ek wel weet uit persoonlike lewenservaring, is dat elke mens ten eerste ‘n verantwoordelikheid het teenoor jouself om te streef na vredevolle verhoudinge met andere, want daaruit put jyself die emosionele wins wat fisiese en geestelike gesondheid bevorder.

    ‘n Positiewe gemoedstemming, kom ek agter, bepaal verder jou uitkyk op die lewe en die waarde wat jyself heg aan jou lewensomstandighede – want sien, die lewe het nou maar eenmaal die vermoë om ‘n mens soms, sonder waarskuwing, in die diep kant van mismoedigheid te dompel.
    Dit kan nogals ‘n ding of twee afgee om daardie mismoedigheid om te dop op sy kop en om weer met ‘n positiewe gesindheid die lewe (in sy al fasette) vierkantig in die oë te kyk en uit te daag.

    ‘n Goeie ou vriend van my (alreeds oorlede), stuur een oggend vir my ‘n ‘whatsapp’ wat my tot stilstand gebring het en waaroor ek weereens eers self moes nabetragting doen oor my gemòr as iets nie na my sin verloop nie.

    “Morê julle almal. Net terugvoer, was gister by die Onkoloog, nie baie goed.
    Dit het reeds te vêr versprei. Chemo is oorweeg maar die liggaam sal nie cope nie. Al die behandeling is gestaak en daar sal nou op pynbestuur gekonsentreer word.
    Baie dankie vir al julle gebede en boodskappe en onthou die Koning is nog op die Troon.
    Mooiloop en geniet die dag”.

    Wat my onmiddellik opgeval het uit die inhoud van sy boodskappie, is dat hy nie vuisvoos geslaan is deur sy eie haglike lewens- en gesondsheidstoestand nie, maar dat hy, ongeag dat hy toe reeds vir etlike maande in sy bene verlam en terminaal was, nog ‘n positiewe gesindheid uitgestraal het om vir my te sê: “Mooiloop”.

    Dit is tekenend van iemand wat die werklike waarde van die lewe besef en persoonlik uitgeleef het. Dit was bewys van sy gesproke meëlewendheid teenoor andere en sy vriende.

    Hierdie lewensles het my opnuut laat besef – almal van ons het mede-eienaarskap van en oor die emosionele toestand van mekaar.

    Mooiloop!

Write a comment:

*

Your email address will not be published.

© Alle regte voorbehou.