Die Herfsfeeste is op die punt om te begin!

Op Vrydag, 15 September 2023 met sononder (18:00) begin die 1ste dag van die Hebreeuse 7de maand, Tisjri, in die Hebreeuse jaar 5784 en neem die 1ste van die Bybelse Herfsfeeste ‘n aanvang en sal miljoene mense regoor die wêreld die basuin (ramshoring) blaas en Die Fees van Basuine vier.

Die Fees van Basuine (Yom Teruah) dui op die einde van die oesseisoen en word ingelui deur ‘n heilige dag van basuingeklank.

Die Fees van Basuine  is dus ‘n heilige vierdag wat verkondig word deur die blaas van die shofars (basuine) en ten aanhore van die basuingeklank word introspeksie gedoen; ‘n geleentheid van inkering en verootmoediging om weer met God te versoen op die 10de dag van Tisjri (‘n jaarlikse Versoeningsdag).

Hierdie dag word ook algemeen Rosh HaShanah genoem omrede die Fees van Basuine saamgesmelt het met die Joodse Nuwejaarsvieringe (Rosh Hashanah) aangesien Tisjri (gewoonlik in September of Oktober op die Gregoriaanse kalender) die eerste maand op hulle siviele kalender is. Rosh Hashanah is die eerste dag van ’n nuwe jaar (Rosh beteken “hoof” en shanah “jaar”).

Die Hebreeuse kalender moet nie verwar word met die Bybelse nuwe jaar wat plaasvind in die Hebreeuse maand Nisan (gewoonlik in Maart of April op die Gregoriaanse kalender).

Die hemelse klank van die ramshoring deurdring die hart met die opwindende blydskapsgevoel dat die Koning kom!

Die mees prominente aktiwiteit van die Fees van Basuine (Yom Teruah) is die blaas van die shofar (ramshoring). Daar vind meer as ‘n honderd blasings met die ramshoring plaas wat regdeur die gebedsdienste gehoor word.

Elke blaas van die ramshoring is ‘n dringende oproep tot geestelike ontwaking en bekering wat die sinne raak van almal wat die deurdringende klank aanhoor.

Dit bereik ‘n hoogtepunt met die laaste basuin wat aandui dat die geleentheid tot geestelike ontwaking en bekering ‘n aardse tydlynsbeperking het.

In die Bybelse Ou-Testamentiese tyd, was Yom Teruah die datum op die kalender wanneer die konings van Israel gekroon is en die troon ingeneem het. Die opstanding van die dooies en volkome insameling van Israel, word ook deur die Joodse volk gekoppel aan Yom Teruah.

Die Jodedom beskou Yom Teruah as die dag wanneer die Bruidegom sal terugkeer vir Sy bruid.

Joël 2
:1 Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby.
:15 Blaas die ramshoring in Sion, bepaal 'n dag om te vas, roep die gemeente bymekaar.
:16 Roep die volk op, reinig die gemeente, laat die leiers bymekaarkom, bring die kinders bymekaar, self dié wat nog drink. Die bruidegom moet uit sy kamer kom, die bruid uit haar wittebroodskamer.

Sound of Shofar